Gehalte staan nie noodwendig terug vir volume nie. Dit het De Rustica-olyflandgoed, die derde grootste olyfolieprodusent in die land, pas weer bewys toe dit as SA Olive se topprodusent aangewys is. Nou staan plaaslike en oorsese kopers tou by die onderneming.

Die De Rustica-olyflandgoed naby De Rust het sommer van die wegspringslag af rimpels in die land se olyfbedryf gemaak. In 2013, slegs die tweede jaar waarin olyfolie op die landgoed gemaak is, het dit met drie goue medaljes op die SA Olive-toekenningsgeleentheid weggestap. Sedertdien was mnr. Joop Steenkamp, bestuurder van De Rustica, en sy vrou, Precilla, gereeld op die verhoog by die toonaangewende geleentheid: Vanjaar is De Rustica die tweede jaar agtereenvolgens as die topprodusent aangewys met sy medalje-oes wat kop en skouers bo die res uitgestaan het. Met 118 ha olyfbome het De Rustica hom binne ’n paar jaar as een van die groot produsente in die bedryf gevestig. Vanjaar het die landgoed 1 300 ton olywe geoes en 200 000 liter olyfolie geproduseer – amper 10% van die algehele plaaslike bedryf. “Wat olie betref, is ons die derde grootste olyfplaas in die land,” sê Joop. Mnr. Rob Still, eienaar van die besigheid, sê hul doelwit nou is om ook internasionale
pryse in te palm. “Ons is eintlik nog snotneusies wat net in die bedryf begin het, maar ons het al verskeie kere die beste gevaar met die SA Olive-eerbewyse. Dis nie sleg nie, maar ons wil steeds probeer verbeter. “Ons wil ’n Suid-Afrikaanse produk skep wat internasionaal verkoop kan word, maar dan het ons genoeg volume nodig om die handelsmerk te ondersteun. In Suid-Afrika is dit mos ’n siekte om saam te werk, maar kyk net hoe die Nieu-Seelanders en Australiërs hul sukses behaal – hulle snoer hul kragte saam. Ons wil dit op dieselfde manier doen en daar is reeds ’n aantal produsente wat met mekaar daaroor gesels. Olyfolie se verbruik groei oor die wêreld heen en ons maak die beste olyfolie ter wêreld – soveel mense het dit al vir my gesê. Ons moet egter ’n manier kry om dit na die res van die wêreld te neem.”
Suid-Afrika se reputasie vir olyfolie van uiters goeie gehalte is ook wyd bekend in die buiteland, al lewer plaaslike olyfboere net 0,02% van die wêreldproduksie.

 

WISSELKOERS
Joop sê veral teen die huidige gunstige wisselkoers vir uitvoer raak buitelandse markte al hoe aantrekliker. Die internasionale prys is al geruime tyd baie goed.
“Sowat twee jaar gelede was daar ’n groot droogte in Spanje, die wêreld se grootste produsent, en Italië het probleme met siektes gehad. Die pryse het die hoogte ingeskiet weens die hengse tekort. Dit is steeds hoog en ons glo dit sal nie binnekort sak nie.” Volgens Precilla verdien olyfolie minstens 50% meer in die buiteland as op eie bodem. “Die prys van die ultra-premiumolies is drie tot vier keer meer as grootmaatolies.” Nog ’n doelwit is om die olyfolieprys te laat styg sodat dit die gehalte van die produk weerspieël, sê Rob. Me. Karien Bezuidenhout, bestuurder van SA Olive, sê daar is ’n aantal Suid-Afrikaanse produsente wat uitvoergeleenthede gebruik, maar dis nie bekend hoeveel olyfolie uitgevoer word nie. De Rustica het verpakte olyfolie al na Kanada, Europa, Taiwan en Amerika gestuur. Van De Rustica se grootmaatolie is ook na die Midde-Ooste uitgevoer. Precilla sê navrae uit die buiteland vir hul olyfolie neem toe. “Ons is besig met onderhandelings vir uitvoer en om agente aan te stel. Die groot ding is om nie die plaaslike mark te verwaarloos terwyl jy uitvoergeleenthede najaag nie.”
PLAASLIKE VERBRUIK GROEI
“Die bedryf se toekoms lyk baie goed en die vraag groei ook plaaslik namate verbruik in Suid-Afrika toeneem,” sê Joop Mnr. Nick Wilkinson, voorsitter van SA Olive, sê die plaaslike bedryf verskaf net 40% van die olyfolie wat in die land verbruik word. Dié markaandeel groei egter. “Maar dit gaan tyd kos, want Suid-Afrikaners is nog baie oningelig oor olyfolie,” meen Precilla,  wat in beheer is van bemarking en verkope. “Die plaaslike bedryf het aansienlik gegroei danksy groter blootstelling aan produsente in die media. Daar is ook al baie geskryf oor die gesondheidsaspekte van olyfolie.” Die goue medaljes en gesogte eerbewyse wat De Rustica se uitstalkas laat kreun, lok ook talle mense na die plaas en handelsmerk toe. De Rustica-olie word op die oomblik hoofsaaklik in groot maat aan plaaslike verspreiders verkoop, soos die leefstyl- en koshandelsmerk, Nomu. Verpakkings met 5 liter olie word aan restaurante bemark. “Ons verkoop ook olyfolie plaaslik onder ons eie handelsmerk en in ons eie verpakking. Ons begin ook nou die kleinhandelmark betree.” Olyfolies word hoofsaaklik in drie kategorieë bemark, naamlik delikaat, medium en intens. “Ons oorweeg dit nou om dit ook volgens die kultivar te bemark.”
IDEALE KLIMAAT
De Rustica-olyflandgoed is op die plaas Oudemuragie, aan die voet van die Swartberge, nie ver van die Klein-Karoodorpie De Rust nie. Dis juis hierdie berge – wat Rob so goed leer ken het in sy tyd as weermagoffisier op Oudtshoorn – wat aanleiding gegee het tot die idee vir olyfproduksie. “Ek was gelukkig in my lewe. Ek is ’n mynbou-entrepreneur wat oor die wêreld heen gewerk en ’n bietjie geld gemaak het. Ek wou graag geld terugploeg in Suid-Afrika. Ek het gaan kyk na wat mense doen, en ek wou nie die 250ste rykerige ou wees wat ’n wynplaas koop nie. “As weermagoffisier het ek die Swartberge goed leer ken – ons moes dit hoeveel keer op en af hardloop – en ek was bekend met die koel klimaat teen die berge. Ek het besef dis geskik vir olyfverbouing en dís wat my aangespoor het om in die olyfbedryf te belê.” Die oudste olyfbome is nou tien jaar oud en Joop sê hulle beoog om die produksie op De Rustica uit te brei. “Ons gaan nog bome aanplant – hoogstens 20 ha, want water is ons beperkende faktor. “ ’n Olyfboom is amper ’n woestynplant. Ons het lekker koue winters, met die maksimum temperatuur omtrent twee uit die drie maande sowat 12-13 °C. In die somer is die dae lekker warm en lank,” sê Joop, wat eens ’n teeboer in Limpopo was. “Ons is ook ’n bietjie hoër bo seevlak as ander plekke. Dit hou die temperature ’n bietjie laer, wat die bome stadiger laat groei en die gevolg is ’n beter olie. ’n Olyfboom wil ook water hê en ons kry skoon, suiwer water uit die Swartberge om te besproei.” Die klei- en spoelgrond is goed gedreineer en bevat heelwat organiese materiaal. Die olyfpulp wat oorbly nadat die olywe gepars is, word as kompos in die grond ingewerk.
ITALIAANSE KULTIVARS
Hulle vestig hoofsaaklik die Italiaanse kultivars FS17, Frantoio, Coratina, Leccino, Delicata en Nocellara op die plaas. Sowat 40% van die bome is FS17, wat goeie oeste oplewer en nie soos ander kultivars elke tweede jaar oorslaan nie. Die olie val in die medium-kategorie, wat uiters gewild is onder verbruikers. “Coratina is ’n goeie bestuiwer en lewer ’n meer intense olie. Daarom kan ons dit met meer delikate olies versny. Die olyf-oliekonsultant Linda Costa help ons daarmee.” Volgens Joop het hulle vanjaar ’n “fantastiese oes” ingevorder. Een van die FS17-boorde het 20,4 ton olywe per hektaar gegee. In die ander boorde het hulle gemiddeld 16-17 ton/ha gepluk. “Verlede jaar het ons ’n probleem met bestuiwers gehad weens die koue, nat weer. Sowat 80% van die blommetjies is nie bestuif nie. Die jaar voor dit het ons ’n ‘af’-jaar gehad, maar in die afgelope seisoen het die klimaat en die reënval goed saamgespeel. Ons kan regtig nie kla nie.” Die olywe word met die hand geoes. Daarvoor gebruik die werkers ’n klein harkie om die vruggies uit die bome te hark. Dit val dan op skadunet onder die bome. “Ons neem 250 mense in diens in die oestyd wat van einde Maart tot einde Junie strek. Die aanleg werk dan 18 uur per dag. Werkloosheid is baie hoog in hierdie omgewing
en dit laat ons goed voel dat ons kan help om werk te verskaf. Daarom wil ons nie meganiseer nie.” Die bome is boonop redelik dig geplant (5-6 m tussen die rye en 3 m in die rye) en oesmasjiene wat die bome skud, kan nie daar inkom nie. Die plantdigtheid is weer te laag vir ander meganiese oesstelsels.
SNOEI EN PLAAGBESTRYDING
Snoeityd begin onmiddellik ná die oes en duur tot vier maande. Die 30 opgeleide snoeiers snoei die bome redelik aggressief. Ná snoeityd begin hulle met plaag- en onkruidbestryding. Hulle spuit teen dopluis, bladvlooi (Psylla), olyfkewer en teen die peacock spot-swam. Die spuitkoste beloop bykans R4 000/ha. “Hier is olienhoutbome in die berge wat die siektes dra en ons taak moeiliker maak. Ons hou teen einde Desember, sowat drie maande voordat ons begin oes, op met spuit om seker te maak geen residu beland in die olie nie,” sê Joop. Die moderne aanleg is in 2012 in gebruik geneem. “Ons pars nog net 75% van wat ons daar kan verwerk. Ons het vanjaar ook olie van sowat 20 boere vir hulle gepars. Ons sal dit verwelkom as hier nog aanplantings in die omgewing kom, want ons kan dit vir die boere pars. Hulle sal nie sukkel om kopers vir hul olie te kry nie.”

SÓ PROE JY OLYFOLIE
Voordat ’n olyfolie as ekstrasuiwer geklassifiseer kan word, moet dit aan sekere tegniese en sensoriese standaarde voldoen. Dit moet natuurlike, suiwer olie met ’n vrye suurinhoud van minder as 0,8% wees. In SuidAfrika word olies wat daaraan voldoen, aan die SA Oliveproepaneel voorgelê. Die paneel kom gereeld bymekaar om olie te proe, seker te maak dit toon geen foute nie en dit het ’n lekker, vrugtige karakter. “Eers ruik jy aan die olie. Jy soek vrugtigheid op die neus, geen onaangename geure nie. Wanneer jy dit proe, moet jy ’n effense bitterheid agter op jou tong kry. Dan laat gly jy ’n bietjie in jou keel af en jy behoort ’n peperige sensasie te kry. As jy hoor iemand hoes wanneer hy of sy olyfolie proe, moet jy weet dis regtig ’n goeie olie,” sê me. Reni Hildenbrand, sameroeper van die proepaneel. Op grond daarvan word die olies geklassifiseer as delikaat, medium of intens. Dit klink eenvoudig, maar daar is ook ’n lang lys geure waarna die proeërs soek. “Jy moet olywe op die olie kan ruik. As jy baie goed is, sal jy die geur van ryp en onryp olywe kan onderskei. In die mond sal jy geure soos gras, artisjokke of tamaties optel.” Olie moenie te koud of te warm wees wanneer dit geproe word nie, sê me. Linda Costa, olyfoliekonsultant. “Die ideale temperatuur is 28 °C, want dan ontsnap al die vlugtige geure en kan ons dit goed ruik.” Olyfolie word in peperduur, ingevoerde, blou glasies geproe. Die spesifikasie, afmetings en dikker basis help die olie om sy temperatuur te behou. “Die glas is blou omdat kleur nie so belangrik is nie en nie die beoordelaar moet beïnvloed nie,” sê Reni. Wanneer ’n olyfolie met ’n CTCseël (commitment to compliance) spog, kan verbruikers gerus wees dis 100% SuidAfrikaanse olie uit die huidige oesjaar (dit verseker die varsheid van die olie), dis gemaak volgens internasionale en SA Olive se gehaltestandaarde en die etiket is betroubaar (as dit sê dis ekstrasuiwer, dan is dit!).

Artikel van Landbou Weekblad 28 Oktober | No 1978 | bl 43

Artikel geskryf deur LUCILLE BOTHA lbotha@landbou.com