AS die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) aan die brand geskop word, kan die arbeidsintensiewe olyfbedryf baie meer werkgeleenthede skep en plaaslike produkte kan die plek van ingevoerde olyfolies van swakker gehalte op winkelrakke inneem.
Mnr. Nick Wilkinson, voorsitter van SA Olive, het by SA Olive se toekenningsgeleentheid in die Paarl ’n pleidooi gelewer dat die Regering die NOP in werking moet stel. “Ons ding mee teen gesubsidieerde, ingevoerde olies, dikwels van swak gehalte, maar ons wen veld. Die persentasie van ons plaaslike markaandeel groei. Ons is ’n arbeidsintensiewe bedryf wat werkgeleenthede skep en boonop ons arbeidsmag oplei. Wat wil jy meer hê?” Die bedryf se versoeke aan die Regering om ’n teenvoeter vir tariewe te vind en om hom met generiese bemarking te help, het egter op dowe ore geval. Die aansoek om finansiering sodat vervalste en verdagte ingevoerde olies getoets kan word, het ook niks opgelewer nie.
GROEI
“Tog groei ons steeds. Ten spyte van die droogte en geen bystand nie, verwag ons vanjaar ’n oes van 2,2 miljoen liter olyfolie. Dis steeds net 0,02% van die wêreldproduksie. Ons verskaf net 40% van die olyfolie wat ons in Suid-Afrika verbruik. Ons gehalte is beter as verlede jaar en ons kompetisie- inskrywings het met meer as 20% toegeneem.” Volgens Wilkinson is die olyfbedryf anders as die wynof appelbedrywe, wat ontstaan het uit staatsgereguleerde landbou-bemarkingsrade, of wat ’n lang geskiedenis van kommoditeitsproduksie agter die rug het. “Ons word aangedryf deur baanbrekers en op en wakker individue wat aan die voorpunt van private ondernemings staan. Ons het ons eie bedryf uitgebrei, ons beheermaatreëls ingestel en ons eie bedryf gereguleer. “ ’n Mens kan net wonder hoeveel meer ons sal regkry as regeringsbeleid in pas is met die potensiaal van die bedryf om geleenthede vir ons arbeidsmag te skep.”
GEHALTE
Die wêreld het ook deeglik van die gehalte van Suid-Afrika se ekstrasuiwer-olyfolie kennis geneem. Produsente oes lof én medaljes in op internasionale kompetisies in Amerika, Italië en Japan. Me. Benedetta Lami is die eienaar van Oliomio, ’n maatskappy wat toerusting vir die olyfbedryf invoer. Sy sê dr. Antonio Lauro, ’n Italiaanse kenner wat die proepaneel gelei het, was in vervoering met die gehalte van die rekordgetal van 110 inskrywings vir vanjaar se kompetisie. Wilkinson sê die pryse moet ’n boodskap aan die Regering stuur om die NOP te aktiveer. Die bedryf slaag daarin om ingevoerde produkte te vervang en die uitvoer van olyfolie neem toe. Volgens hom is daar ook baie vernuwing in die bedryf en kwekerye soek voortdurend oorsee na nuwe idees om plaaslike produkte uit te voer. De Rustica, ’n olyfolieprodusent van De Rust, is vanjaar as die beste produsent aangewys. Me. Renie Hildenbrand is as die olyfolie-presteerder van die jaar aangewys.

 

– LUCILLE BOTHA |16 September 2016 | bl.22